Digitale terrestriële televisie

Article on other languages:

Die term Digitale terrestriële (aardgebonde) televisie (DTT; Engels: Digital Video Broadcasting - Terrestrial of DVB-T) verwys na die variant van digitale televisie, wat 'n terrestriële platvorm gebruik om televisie- en radioprogramme uit te saai. DTT maak net soos die analoog-tegnologie gebruik van lugdraadstelsels, maar is in staat om meer televisiekanale op een frekwensie uit te saai.

DTT-tegnologie is ook geskik vir hoë-resolusie-televisie (HDTV) en digitale ruimteklank. DTT is versoenbaar met televisiestelle wat tans in gebruik is, maar spesiale dekodeerders (steltopbokse) is noodsaaklik om DTT-programme op te vang. Plat skerms met geïntegreerde DTT-dekodeerders is reeds beskikbaar. Aangesien digitale data vir die transmissie met DTT duidelik gekompakteer moet word, is hierdie tegnologie - met uitsondering van HDTV-programme - weens die swakker beeldgehalte veral geskik vir mobiele of televisietoestelle met kleiner skerms.

DTT is 'n internasionale standaard, wat in Duitsland ontwikkel is en in Europa, Australië, Namibië en Suid-Afrika gebruik word. Die Verenigde State en Japan het hulle eie digitale terrestriële standaarde ontwikkel, ATSC en ISDB-T.

Die eerste DTT-uitsendings in Suid-Afrika is in 2000 in Johannesburg uitgesaai, en die land se terrestriële televisie sal teen die jaar 2011 of 2012 ten volle oorskakel na DTT.

This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.